Soos die fees seisoen van Yom Teruah, Yom Kippur en Sukkot hierdie jaar nader gekom het, het ek begin dink oor die betekenis van dié seisoen.
My gedagtes was spesifiek gefokus op wat die Here vir ons wil sê op ‘n persoonlike geestelike vlak?
Die Seisoene van die Hemele
Volgens die Bybel weet ons daar is ‘n seisoen van verlossing, Pasga. Daar is ‘n seisoen van bekragtiging, Pinkster en dan is daar die seisoen van verheerliking, die fees van Tabernakels – Sukkot. Elkeen van hierdie is ‘n geestelike mylpaal of ervaring in ons wandel met die Here, van heerlikheid tot heerlikheid.
Maar elke seisoen kom met sy eie uitdagings en toetse, niks kom outomaties nie. Net soos Hebreërs 6:1-3 vir ons verduidelik, ons kan net groei in die gees as die Here dit toelaat, daarom is dit so noodsaaklik vir ons om sensitief te wees vir die leiding van die Heilige Gees.
Ek was al op baie geleenthede onsensitief teenoor die Heilige Gees en dit het my al duur gekos, veral wanneer ek gewoond geraak het met die seisoen waarin die Here my gelei het, maar dan kom daardie seisoen tot ‘n einde en Hy wil my in ‘n nuwe een in bring. Gewoonlik neem dit ‘n tydjie voor ek agterkom die Heilige Gees wil nou iets anders doen.
Kom in lyn
Ek is daarvan oortuig dat die Here ons elkeen besoek op verskeie tye van die jaar. Die Here stuur engele uit om ons te ondersoek en hulle bring ‘n berig terug aan die Here van wat ons geestelike toestand is (sien Gen. 19). Daar is ‘n geleentheid gegee vir ons om te hoor wat die Gees vir ons sê, maar as ons nie daarop reageer en in lyn kom met die wil van die Here nie, sal ons weer ‘n keer om die berg gestuur word, totdat ons die les geleer het (sien Psa. 105:19).
Die Dag van Trompette – Yom Teruah is die dag waarop ons tot aandag geroep word (sien Joël 2:1, 10; Num. 10). Net soos by berg Sinai, wanneer die trompet hard geblaas word is dit om ons tot aandag te roep, die Koning van die heelal is op pad, ons moet gereed maak.
Daar is 10 dae tussen die Yom Teruah en die Dag van Versoening – Yom Kippur, dit is die tyd wat gegee word vir almal om voor te berei, harte en hande te suiwer (sien Psa. 24:4) en ons te verootmoedig, want ons gaan almal voor die Here staan en antwoord gee vir ons besluite en gedrag vir die jaar wat verby is.
Na Yom Kippur is daar vyf dae dan begin die fees van Tabernakels – Sukkot, dit is die seisoen van vreugde (sien Lev. 23:34-44), die tyd van die beloning van die Here.
As ons ons harte verootmoedig het voor die Here, dan sal die Here ons verhoog (sien Matt. 23:12). Nou kan ons in ‘n nuwe seisoen gaan saam met die Here, nog ‘n bietjie meer heerlikheid, nog nader aan die Here se hart. Dalk ‘n groter openbaring en meer kennis van Jesus in ons, wat ook al die Here kies om aan ons te gee, dit sal ons beloning wees en ons nuwe heerlikheid.
Lees gerus die artikel Soek die Here vir meer inligting.
Die tyd is nou
Jesus se belangrikste vermaning is vir ons nou,
“Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”
Kom ons word stil voor die aangesig van die Here, sit die tegnologie af en mediteer op die Skrif, aanbid Jesus in verwondering. Kom ons bring ‘n waardevolle offer aan Hom.
Ons is nou in ‘n baie spesiale seisoen in die geskiedenis van die aarde, as ons die Here met alles sal soek sal Hy Homself aan ons openbaar en ons verheerlik sodat ons Hom kan ken en die groot oes van siele sal inbring voor die wederkoms.
Druk hier vir die volledige boodskap wat ek op die 5de September by die AGS Barberton bedien het.